BETTY’S BRAND!

Anli Theron

Met die brandseisoen op hande gaan ons gedagtes terug na die verwoestende brand in Bettysbaai in Maart verlede jaar. Ter herinnering daaraan publiseer ons hiermee die laaste deel.

Bettysbaaiveldbrand 3 – Ons tel ons wonde

A4_B1Donderdagoggend 5 Maart word ek voordag wakker. Dis doodstil, net die branders raas so nou en dan. Dis stil. Niks voëlsang nie. Niks paddasang. Niks krieke. Dis aardig. Wanneer dit lig word, begin die Suidoos opstaan, meedoënloos.

Ek trek aan en gryp my kamera. Begin foto’s neem, dis nog amper te donker en aanvanklik kan ek sien dit werk nie, maar mettertyd skyn die son vaal oranje deur die rookmis. Ek dwing myself om die skade af te neem, al is dit heel teen my natuur. Hiervan moet ek minstens dokumentêre foto’s hê. Van goeie fotografie en beplanning is daar geen sprake nie, die beelde is te rou. My plante is ook my kinders.

My werfhoenders is ook weg. Ek hoor hulle nie en ek sien nêrens een nie. Hulle is taamlik territoriaal. Diè halfmak Kaapse fisante wat hulle so in my tuin tuisgemaak het, is skoonveld. Voor die brand is getrou deur die familie gerapporteer dat hulle nog vier kuikens groot gekry het die somer. Die fisantfamilie moes dus nou vyftien sterk wees. Ek gooi gewoonlik vir hulle mielies, en sit vrugte uit en die hoenders en die ander voëls baljaar. Ek gee natuurlik meer kos as my manlief, maar dit neem die voëls gewoonlik net ‘n dag om agter te kom ma is terug. Dan moet mens die onderdeur toe hou as jy nie ‘n hoender in die huis wil hê nie. Nou lê die mielies onaangeraak voor die kombuisdeur, dae lank. Ek maak of ek dit nie sien nie. Johan herinner my daaraan dat hulle wel van lugvervoer gebruik maak. Ja, maar hulle vlieg soos ‘n tarentaal, elke vlug is ‘n vloekskoot, beween ek my verlies.

A4_B2My tuin het inderdaad beter dae geken. Meeste van my keurtjiebome is gebrand. Hulle slaan sommer self op en gaan net so gereeld dood. Ek en die Witogies lief die keurtjies, pienk in die blom, elke boom blom mos ook op sy eie onvoorspelde tyd. Daar is net vier ou groot proteas wat ontkom het. Die fynboskolletjie voor my kamervenster is verskroei. Die grasperk en die wye rand bolle wat ek om die grasperk het, het duidelik die brand weggekeer van die huis, maar is verskroei. My sowat 20 groot Protea mundi’s onder in die tuin wat die suikervoëls so geniet, is almal swart geraamtes. Al die ander jonger proteas wat Gerda en ek die laaste klompie jare aangeplant het, is opgevreet deur die vlamme.

A4_B4A4_B6

A4_B5A4_B3

A4_B7My komposhope het soort van oorleef, maar die takkehoop en die houthoop nie. In ruil daarvoor het ek heelwat as en ‘n goeie hoeveelheid houtskool. Kompos maak hier in die droë warm somers van die Weskaap is ‘n lang, stadige proses en soms neem dit amper drie jaar vir ‘n groot hoop kompos om af te werk. Deels omdat ek nie hulp het en nie die hoop omwerk nie, net pak en wag; maar ook deels omdat die somer te droog en die nat winters te koud is.

Die houthoop is vir my ‘n skade. Ek gebruik die tuin se eie hout streng in die kaggel en krap net daardie fynbosasse uit. Daarvan maak ek my asglassure vir my potte. Dit gee my ‘n adrenalienplesier as ek ‘n pot maak en dit glassuur met my eie fynbosas. Geen indringerhout se as mag my glassure besoedel nie.

Dis duidelik dat die hope droë materiaal so naby die huis nie ‘n goeie plan was nie en dat dit maklik die huis aan die brand kon steek. Ek is dankbaar dat die brandweer byderhand was. Ek het agterna hardop voorgestel hulle het seker nie gedink ek is snaaks met ‘n houthoop so naby die huis nie. Johan het egter met insig geantwoord die manne het nie daai nag tyd gehad vir dink en kritiek lewer nie. Hy is sekerlik reg. Mens dink nie aan ander goed as jy krisisse hanteer nie. Dit is tog ons eie ervaring ook. Johan se woorde troos my skuldgevoel.

A4_B8Nadat ek foto’s geneem het, sluit ek my pottekamer oop. Ook daar lê die roet, maar nie te erg nie. Ek gooi altyd die ongebakte potte met plastiek toe as ek lang tye weggaan. Die plastiek het bietjie roet op. Ek haal my tuingereedskap uit my pottekamer en gaan sit dit op die stoep. Dit gaan sommer daar staan vir die volgende paar weke. As dit in die middel van die dag te warm word in die tuin, beplan ek so ‘n bietjie afleiding in my pottekamer. Dan wil ek nie oor tuingereedskap trap nie.

Eers dra ek die houtskool na die nou oopgebrande onderste deel van die tuin. Die hout en komposhope was bo by my kamer omdat die onderste deel van die tuin oorgroei het en ek te lui was om dit oop te sny. Die clivia’s wat ek verlede jaar onder die oostekant se keurtjies geplant het, het sleg gebrand en die nuwe jong proteatuin wat ons voor die clivia’s aangelê het, is heeltemal weggebrand. Ek trek dooie houtskooltakkies uit die grond en spit die grond bietjie om.

Loop weer deur die tuin. Dink. Kry later warm en gaan sit in die sitkamer met ‘n koppie koffie. Gaan grawe my tuinboeke uit. Aha, die een het ek nog nie gelees nie. Maak tuin met Fynbos van die Kirstenbosch reeks. Dis ‘n nuwe boek. Ek begin bietjie lees. Skets op papier etlike tuinplanne. Besef later ek moet die hele tuin oorbeplan en nuut begin. Asof tien jaar terug, weer van voor af begin.

Aanvanklik vorder ek baie stadig. Huiwerig. Probeer saans die volgende dag se werk beplan. Een vierkant meter op ‘n slag is genoeg, troos ek myself. Ek spit in die grond en begin bolle onder die as soek en vind. Soms vind ek kolle met honderde babatjiebolletjies. Ek haal dit versigtig uit, verdeel en dink en beplan. Voorheen was ons tuin taamlik deurmekaar, soos die Heer in die veld tuinmaak, het ek gedink is goed genoeg vir my. Gerda en ek koop sommer blomme op die ingewing by Caledonkwekery se bakkie of by die Botaniese Tuin. Plant dit sonder beplanning in enige oopte. Sade van bolle word lukraak verstrooi. Ek besluit ek gaan dit “landscape” soos wat die groot tuiniers deesdae doen. Die soorte bolle bymekaar plant. Miskien sal die blomme dan meer impak maak.

Ek het lankal so effe begin om die bolle meer direk om die huis te plant en die fynbos verder weg, maar nie heeltemal daarmee deurgedruk nie. Voortaan gaan die eerste vier tot ses meter om die huis uitsluitlik bolle en gras word. Dit gaan nie dadelik gebeur nie, want daar is enkele mooi proteas aan die voorkant van die huis wat nie gebrand het nie. Soos hulle doodgaan, soos hulle wel sal doen, sal ons hulle net met bolle vervang.

Ek loer op die internet na my gunstelingbolverskaffers se katalogusse. Die bolle is duur en Showers of Flowers, waar ek jare reeds sommer handevol Watsonia’s en ander inheemse bolle koop, is oorgeneem deur ‘n ander maatskappy. Ek sien dadelik die nuwe maatskappy se pryse is verspot duur. Gaan soek verder in my tuin na bolle en kry meer as wat ek benodig.

A4_B9Eerstens, waar die klein proteatjies was, gaan ek my bietjie daglelies saam plant. Gaan soek hulle, daar is omtrent sewe plante. Toe ek hulle uitmekaar maak en verdeel, het ek sowaar sowat veertig plantjies. Ek gee hulle kos en deklaag en staan terug. Dag twee is verby. Agter die daglelies plant ek watsonias in kolle, en verder na agter tot by die draad, agapanthus. Daarvan het ek baie verskillende soorte. Ek plant grotes agter en klein soorte voor in groepe. Die eerste vier of vyf meter kry vorm.

Ses dae na die brand lê die grond onder die Protea mundi’s geelbruin en blink van die saad. Ek staan oopmond en bekyk die wonder. Die blomme is swartverbrand en hulle skiet kragtige saad. Op dag sewe stoot die vyeboom klein blaartjies en sommer vye ook uit. Jesus se na-vye besef ek. Sowaar.

A4_B11Op dag agt kom ‘n skugter senuagtige fisant en haar kuiken skuins-skuins oor die vaal gras. Ek roep en gaan strooi kos. Hulle eet gulsig. “Waar was julle?” Hardloop dadelik onder die bosse in. Duidelik opgestres. Gedurende die volgende dae kom hulle twee-twee aan. Later is daar nege. Dis duidelik dat almal nie die nag se mal brand oorleef het nie. Hulle inspekteer my tuinmaak. Vind dit goed en krap en bad in die omgeskoffelde sand. Bly daar bedags, al om my, waar ek tuinmaak. Gaan slaap saans raas-raas en ontevrede in die ontblote vlei onderkant die huis.

Op dag tien sit die drie kransduiwe op die dak en loer na hulle huis teen die muur. Hulle huis is eintlik ‘n uilboks wat ons opgesit het, maar hulle kan nie lees nie en het dit oorgeneem. Hulle inspekteer en teen die middag trek hulle terug. Koer in die nag tevrede bokant my venster. Ek koer saam.

A4_B16 A4_B15 A4_B14 A4_B13

Twaalf dae na die brand kom die kinders opgewonde van die see af. Dis Saterdagmiddag laat.

“Los alles!” roep Frix. “Bring jou kamera.”

“Wat nou?”

“Bring net jou kamera.”

Ek los en ons loop vlei toe. Van ver af sien ek dit ook. Brandlelies stoot blomme en stingels. Bloedrooi blomme in die gitswart vlei. Dis die skaars een! Die een wat net blom as dit brand. Die meer algemene een blom soms in my tuin, maar wag ook eintlik maar vir brand. Diè een het ‘n smal blomblaartjie en is beperk tot die vleie tussen Rooiels en Bettysbaai. Opgewonde kniel ons in die modderige vlei vir die nabyskote.

A4_B17

Ons neem foto’s in die laatmiddaglig. Rooi op swart. My hart jubel. Orals sien ek groen blaarpuntjies varkore. Die vlei staan op juig my hart. My beker loop oor. Twaalf dae. Sonder dat daar ‘n druppeltjie reën was. Terwyl die middag steeds na warm as ruik en die laag roet in my huis al dikker word, stoot die vlei jubelende rooi blomme uit. Terwyl die brande teen Tafelberg en in Jonkershoek steeds weghardloop en vernietig, staan ons vleitjie op soos ‘n sigbare herlewing en so leer ons by die natuuur weereens van Goddelike genade en sorg.