BETTY’S BRAND!

Anli Theron

Met die brandseisoen op hande gaan ons gedagtes terug na die verwoestende brand in Bettysbaai in Maart vanjaar. Ter herinnering daaraan publiseer ons hiermee deel

 Bettysbaaiveldbrand 2 – Johan se storie

Meer as Johan se kriptiese kommentaar van die ‘tuin het beter dae geken’ kon ek nie uit hom kry nie. Hy bevestig net die brand is uiteindelik later die oggend vasgekeer en alles is onder beheer.

Intussen was dit duidelik dat ons net ‘n klein deel van die tragedie was. Teen Maandag kon ek daar uit die noorde op Faceboek sien dat die hele Tafelberg brand. Dit was oral, net soos by ons, die gevolg van erge moedswillige brandstigting.

Ons vliegtuig vanaf Istanbul het Woensdagmiddag so teen twee uur sy lui sirkel oor Kaapstad Internasionaal begin. Kolomme rook het oor Tafelberg, maar ook oor die Wellingtonberge gehang. My maag het so ‘n nare draai gemaak. Uit die lug kon mens sien die Suidoos woed steeds stormsterkte en die rook hang oor die baai, uitgeblaas tot oor die see.

Johan het my opgepik by die lughawe. Sigbaar stil, sy uitdrukkig gespanne en strak. Ons ry in stilte huis toe, seelangs, met die mooiste kuspad in die wêreld. Die rook hang dik oor die mooiste Kaap.

A3_BettiesBurnOor die laaste hoogte ry ons. Bettysbaai se mooi vallei gehul in ‘n steeds digte rooklaag. Die wind skynbaar uitgewoed. Spookagtig. Die rook krul lui-lui oor die baai. Die vlei is ‘n maanlandskap. As en modder blink in die rook. Die huise in die rookmis, asvaal en alleen. Die rook en die spanning is beide tasbaar as ons voor ons huis stop. Alles lyk soos die Faceboek-foto’s wat ek gesien het. Aaklig.

My praktiese linkerbrein troos dat ons vleie sommer binne ‘n week sal begin opstaan en dat die vlei dit lankal nodig gehad het. Oopbrand, uitbrand, skoonbrand. Ek troos, maar die weemoed, druk my keel toe …

Grys-swart vleilandskap

Grys-swart meer in die rookmis

Grys huis in die rook

Ons klim nie dadelik uit nie. Sit beide. Die voortuin is relatief ongeskonde, net droog en vaal soos dit gewoonlik lyk as die tuin se ma in die warm maande weg was. Die groot Protea nerifolia staan trots orent teen die ooste draad, vol in die knop. Agter haar, anderkant die draad strek die swart ontblote sand. Ek wonder hardop hoe sy oorleef het. ‘Die bandweer’, stel Johan stilweg voor.

Op die vaal grassie lê die fisante se mielies uitgestooi. Onaangeraak.

‘Is die fisante hier?’

‘Nee.’

Die tuin is grafstil. Nie ‘n vink raas nie. Geen Suikervoël is in sig nie. Gewoonlik hardloop my fisante raas-raas onder die bosse uit as ons stilhou om luidkeels aan te kondig dat die kos al vroegoggend opgeëet is.

‘Hier is nie voëls nie.’

‘Almal is weg.’

Weggevlieg hopenlik, dink ek stilweg, sê egter niks. Die verskillende moontlikhede is gans te erg om aan te dink.

Ons sluit oop. Die huis ruik na stroois en ‘n fyn laag roet lê oor alles, reeds ‘n millimeter dik. Ek vee ‘n vinger versigtig oor my geliefde klavier wat ek nie kan speel nie. Loop kamer toe en sit my goed op die mat neer. Loop terug. Kyk deur die sitkamervensters. Die ‘tuin’ lyk mistroostig. Johan skakel die ketel aan. Dis amper vieruur.

‘Die krag sal af wees tussen ses en agt,’ sê hy lakonies.

‘Ek is nie honger nie. Is daar brood en tamaties?’

‘Ja’

Dit tel vir kos in ons huis.

Ons glimlag vir mekaar en druk mekaar in stilte. Drink ons koffie.

Ek gaan nie uit nie. Loop nie af tuin toe nie. Kyk deur die venster. Dis erg genoeg. Ons het wonderbaarlik genoeg ‘n dak steeds oor ons kop. In die tuin lê my eie ‘tuinpotte’ oop en skoongebrand. Bietjie brand pla erdepotte nie; dis waar hulle vandaan kom. Die uitsig uit ons huis is vreemd, onbekend, oop.

Oor die loop van dae kom Johan se storie stadig uit. Kortliks in fragmente. My verbeelding kleur dit mettertyd by…

Johan het teen nege-uur Sondagaand gaan slaap nadat hy vir oulaas met die verkyker van die balkon af gekyk het of hy kon sien of iets brand. Hy was moeg, want hulle het nie Saterdagnag geslaap nie. Hulle het die vuur dopgehou; hy en die kinders. Hulle was gereed om te ‘scramble.’ Die wind was stil Sondagaand. Die vuur steeds dood, of dan ‘onder beheer’. Die brandweer aan diens, maar rustig.

A3_BettiesBurn2Ons huis het min gordyne en ons slaapkamer se drie stelle vensters het slegs dun gaas gordyne voor. Ons hou daarvan om in die maanlig te slaap en die son te sien opkom. Ons lief die wonderskone uitsig. Ons het nie straatligte en nie juis bure nie. Tradisioneel loop net die ystervarke, die rooikat en die luiperd in die nag hier by ons rond.

Vroegoggend word Johan wakker, dis helder lig in die kamer en hy dag eers, hy het erg verslaap. Toe hy sy kop lig, besef hy die vlamme staan sowat 50 meter van ons kamer in die lug, net anderkant die pad en die oop erf. Mens kan jou die angstige opvlieg uit die bed en die gryp van klere voorstel. Dit was ongeveer drie uur in die oggend.

Die karre was almal steeds buite geparkeer en die hek oop. Hy het in die eerste kar gespring en net toe stuur die Here ‘n engel in die vorm van vriende Cedric en Sandra Taljaart wat daar verbyry. Johan het die eerste kar by die meer, waar dit oop is, gaan parkeer en Cedric het hom teruggebring huistoe, nog ‘n kar geskuif en ‘n derde keer ook, betyds om ook Frix se Kombi-kamper te red. Toe hulle die laaste keer wegjaag was die vlamme reeds op die huis en die drie brandweerwaens in die straat. Hy vertel ‘n mens kon skaars asemhaal in die digte rook.

Van anderkant die meer, kon hulle die vuur vleilangs sien aankom. Waar ons bly, was die vlei en my tuin natuurlik ook, taamlik ruig met heelwat groot keurtjie- en proteabome. Johan vertel hoe hy sit en kyk het hoe die vlamme hemelhoog opskiet en hy nie anders kon as om te dink ‘daar gaan ‘n huis’ nie. Gedagtig aan my proteas wat tot knap voor die vensters groei, het hy die ergste verwag. Ons vakansiebure maak nie tuin nie en dis ook ‘n lekker wildernis by hulle. Die volgende bure het wel ‘n gemaakte tuin, maar dis alles groot ou Australiese gombome, van die soort wat gewoonlik lekker brand en weens resin ontplof. Waar ons drie huise is, was die vlamme glo geweldig en angswekkend hoog, onthou Johan.

 Later, na wat soos ‘n ewigheid vir hom gevoel het, het die vuur en die brandweer noord van die meer verbybeweeg. Johan kon met ‘n ompad terugry na die huis. In die vroeë vooroggendlig het hy die huis staande gevind, gehul in rook. Die tuin steeds gloeiend. Hy het ure lank self die gloeiende kole en houtstompe in my tuin verder met ons tuinslang doodgespuit. Dankbaar dat die huis nog staan. Later in die oggend kon hy daar vir ‘n bransweerspan koffie maak en brood sny. Die manne effe lawe en met hulle gesels.

‘n Week later, Sondag by die kerk sien ek vir Sandra en Cedric Taljaart. Die trane vlak in die mooie Sandra se oë. Sy het omtrent 50 proteas verloor. Die brand was ook tot teen hulle agterstoep. Gee kans, gee ek raad, plant nuwe babas by hulle voete, moenie uitkap nie, jy kan nie voorspel wie gaan uitloop en opstaan nie. Wag tot volgende nasomer, voor jy afsny . . .

A3_BettiesBurn3
Die vlei, afgebrand, nat, modderig en blinkswart in die rook.

 In die dae wat sou volg, sou ons besef dat ons klein vlei se brand slegs ‘n druppeltjie in die piering van die Kaap se verwoesting was, en die genade by ons oneindig. Die brandweer het al langs die vlei af met die twee strate weerskante beweeg en die brand in die vlei gehou, van die huise afgekeer. Hulle het nie een huis in Bettysbaai verloor nie. Uitmuntende werk gedoen. Die hele gemeenskap is dankbaar, want verlede jaar se brand se drie murasiehuise staan nog erg seer op hulle erwe, vlak by die R44 en die ingang na die dorp.