BETTY’S BRAND!

brand01Anli Theron

Met die brandseisoen op hande gaan ons gedagtes terug na die verwoestende brand in Bettysbaai in Maart vanjaar. Ter herinnering daaraan publiseer ons hiermee deel een van Anli Theron se vertelling wat in drie aflewerings sal verskyn.

Fynbos brand. Dit brand flippin maklik en sonder veel omhaal. Die ou Portugese Seevaarders het van die Kaap gepraat as ‘die mooiste Kaap waar die berge brand’. Die ongelooflike blomspesiediversiteit is volkome afhanklik van die veld wat van tyd tot tyd brand en die meeste fynbos verkies brandtussenposes van sewe tot vyftien jaar. Die gewone proteas hou nie veel langer as sewe tot vyftien jaar onder normale omstandighede in ‘n mens se tuin nie. Hulle vrek ook veel makliker van liefde as verwaarlosing. Die bolle hou sommer op blom as hulle nie gereeld verdeel en herplant word nie. Ander, soms van die mooiste en geheimsinnigste bolle, blom glad nie as hulle nie kan brand nie en is dus nooit gunstelinge onder tuiniers nie. ‘n Fynbos tuin is nie ‘n maklike selfsorg tuin nie. Dis soos ‘n kind wat mens moet oppas en koester.

Net voor ek vroeg in Maart uiteindelik huis toe kom, Skype ek die laaste Saterdag met Johan. Ek kan sommer hoor hy is nie lekker nie.

“Ons is bekommerd. Die vlei brand by Dawidskraal.”

“Dis omtrent twee kilometer oos van ons huis!” maak my linkerbrein angstig somme. “Spuit die kompos en die houthoop nat as julle kan,” beveel ek aan. (Beide is naby ons kamer.)

“Wat moet ons vir jou saamvat as ons moet hardloop?”

“Dis alles wêreldsgoed, kry julself uit die pad van die vlamme. Waai die wind?”brand02

“Bedonnerd ja. Hier is twee helikopters en heelwat brandweerspanne. Hulle skep water in die see. Dis wind en rook en vlamme, maar lyk my hulle omdraaityd is minder as drie minute . . .” Die bewondering en waardering vir die vliëniers lê vlak in sy stem. “Hulle dink hulle gaan die brand kan vaskeer by die rivier . . .”

Ek weet dis baie droog in die Kaap. Ek kyk elke môre of daar kans vir reën in die Kaap is, maar die reën bly weg en die Kaap is koorsig en erg dor. Die Dawidskraalrivier se monding is midde in die vlei. Die rivier loop seker kwalik en is erg oorgroei aan die monding se kant, selfs tot by die Botaniese Tuin.

“Wie is by jou?”

“Frix en Annette en die Ingelsman. Ons het al die karre reg as ons moet scramble.”

“Het die munisipalitiet die brandpad darem oopgemaak?”

“Hulle was hier rond, maar net die helfte hier by ons rond is gedoen.”

brand03Teen die aand sou die wind effe gaan lê, die brandweerspanne ‘n kansie gun en keer hulle wel die brand vas. Sondag klink Johan meer ontspanne. Die spanne en die helikopters is nog daar rond. Anderkant Dawidskraal in die ou rivierloop is yslike stande ou boomvarings wat glo smeul. Die wind waai weer en almal bly op hulle tone. Laatmiddag is die wind weer rustiger en besluit die kinders om maar Kaap toe te ry. Hulle moet almal Maandag werk. Ons Skype later weer. Johan bevestig hulle het Saterdagnag niks geslaap nie, hy gaan vroeg inkruip. Die brandweer is glo ook nie tevrede en hulle slaap nie; hulle hou aan gloeiende bome spuit. Hy vertel hoe hy hulle dopgehou het, met die grondspanne gepraat het. Hoe almal saamwerk. Hy klink beter as die vorige aand.

Ek volg die verwikkelinge in Betty’s vanuit Atyrau op Faceboek deur die Betty’s Bay Volunteer Firefighters se bladsy en daar is voorwaar spektakulêre foto’s van helikopters en die brand. Teen middernag lyk alles stil en gaan ek slaap. Maandag moet ook ek werk, voor ek die volgende dag terugvlieg huistoe. Dis 9 nm in Betty’s en Johan het seker ook gaan inkruip, want hy is nie aanlyn nie.

Ek is natuurlik eerste wakker en vroeg Maandagoggend is ek terug op Facebook.

Eers is daar niks, maar as ek wil toeklap en gaan stort is dit skielik daar…

Grys studie van ‘n maanlandskap en bekende straathoek.

Grys meer sug in die rookmis.

Grys huis vol roet.

Die foto’s drie minute oud.

Ek sit spraakloos.

brand04Duidelik lyk dit of die huis ongeskonde is. Die voortuin is effens herkenbaar in die rook. Meer word ek nie wys nie. Die bure by “Sleepy Hollow” plaas foto’s en kommentaar op FB wat ek raaksien. Hulle uitheemse tuin is relatief ongeskonde, maar die vlei is afgebrand.

“Die Malkopsvlei het viertig jaar nie gebrand nie,” onthou ek Oom Hendry Pauw se aanmerking laas somer. “Daar is te veel huise rondom die vlei om dit te brand.”

Ek maak aanmerkings op FB en deel foto’s wat ek raakvang. Ek besluit dis dalk te vroeg om Johan te bel, dit word nou eers lig daar. Ek wring my hande in die lug en roep soos die Digter van Psalms met ‘n hartseer stem, want ek sien net ‘n dal van dood na ‘n brand05doodskadu.

Later by die werk loer ek vinnig tussendeur na FB en internet. Deel my ontsteltenis met almal wat kans sien om te luister.

Ure later kry ek Johan se kriptiese boodskap: “Die karre en ek kon ontsnap. Huis het bly staan. Tuin het beter dae geken.”